50 te veel laat hom praat

Julian Rademeyer

Skuiwergate in jagwetgewing maak die deur oop vir renostersindikate om horings af te slag vir die winsgewende swartmark. Julian Rademeyer het met ’n voormalige binnekringer gesels wat ’n duistere internasionale sindikaat onthul het.

Johnny Olivier is ’n gehate man.
Vroeër ’n lid van ’n binnekring, maar nou ’n buitestander nadat hy ’n internasionale multimiljoenrand-sindikaat wat in renosterhorings handel dryf, aan die kaak gestel het.

Omdat daar vir sy lewe gevrees word, ontmoet ons mekaar in ’n openbare plek.

“Ek wil dinge net probeer regmaak,” sê hy nadat ons hande geskud het.

Drie maande gelede het Olivier aan die forensiese ondersoeker mnr. Paul O’Sullivan ’n verstommende verhaal vertel oor leeu­bene, renosterhorings, geld en prostitute wat hulle as wildjagters voordoen.

Hy het die sluier gelig van die geheime bedrywighede van ’n obskure Laosiaanse maatskappy met ’n Thaise middelman en roekelose Suid-Afrikaanse safari-operateurs wat ’n “wettige” manier gevind het om renosterhorings aan die Suidoos-Asiatiese swartmark te verskaf.

Die volgende ses dae het O’Sullivan 220 bladsye getuienis bymekaargemaak. Die skokkendste van alles was ’n bestelling vir 50 renosters van ’n Vrystaatse wildboer, mnr. Marnus Steyl, wat die maatskappy Xaysavang Trading Export-Import in Laos geplaas het.

Die aanvraagdokument, op ’n Xaysavang-briefhoof, lui: “1 month can shoot 15 rhino.”

Die onthullings het netjies ingepas by ’n parallelle ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) na Xaysavang se bedrywighede.

Olivier, wat voorheen al ’n rukkie in Thailand gebly het, het omstreeks 2008 ’n Thai, wat as “die KK” bekend gestaan het, in Johannesburg ontmoet.

Hy het glo as “stasiebestuurder” vir die Thaise lugdiens in Johannesburg gewerk.

KK het Olivier gevra om drie Thaise vriende te help met “ ’n paar administratiewe takies omdat hulle nie vlot Engels kan praat nie”. Hy het ingestem.

Een van die mans het homself “Peter” genoem. Sy regte naam is Punpitak Chunchom en hy is na bewering ’n kernfiguur in Xay­savang se internasionale bedrywighede in wildhandel.

Een van hul eerste “transaksies” was die koop van drie renosterhorings.

“Ek het al die praatwerk met die verkoper oor die foon gedoen,” sê Olivier.

Op 30 September 2008 is Olivier, Chunchom en nog drie mans deur die polisie naby Delmas in ’n geheime operasie gearresteer. Die verkoper was ’n polisiebeampte.

Olivier en een van die Thaise mans is skuldig bevind.

Chunchom en nog twee beskuldigdes is vrygelaat weens ’n gebrek aan getuienis. ’n Man, wat nou as ’n sindikaatbaas geïdentifiseer is, het Olivier se boete van R120 000 betaal.

Twee jaar het verloop voordat Olivier weer vir Chunchom gesien het.

“Ek het hulle toevallig by die Emperors Palace-casino naby die lughawe raakgeloop.

“Hul baas was gek oor die plek. Hy kon maklik R30 000 of R40 000 ’n aand uitdobbel. Dit was vir hom ’n grap.

“Ek het reguit vir hulle gesê ek stel nie belang in hierdie s****t nie. Maar toe vra hulle of ek hulle sal help om leeubene te koop, wat nie onwettig is nie.”

Maar die leeubene het naderhand weer renosterhorings geword.

“Skielik het die Thais ‘skuiwergate’ in wetgewing ontdek om renosterhoring te bekom deur middel van sogenaamde ‘wettige’ trofeejagte,” sê Olivier.

Hy glo die horings het van daar af in die winsgewende sluikhandel in tradisionele geneesmiddels beland.

Die sindikaathoof, wie se naam aan Beeld bekend is, is deur Olivier beskryf as ’n “baie slim” man.

“Hy’t vir my gesê hy is al 22 jaar met ‘dieregoeters’, soos horings, ivoor en bene, deurmekaar.

“As hy na ’n lewende renoster se horings kyk, kan hy skat hulle weeg so 5,3 kg. As die renoster geskiet en die horings afgesny is, is dit akkuraat.”

Teen Desember het die sindikaat al hoe meer na renosterhorings begin soek. Dit was Steyl, ’n leeuteler en safari-operateur, wat hulle glo die kans gegee het.

Hulle het na sy plaas in Winburg gereis om na leeubene te gaan kyk. By die ingang begroet dié woorde mens: “Vir al u wildbehoeftes . . . Steyl Broers – Ons doen dit in ‘Steyl’ ”.

“Toe het dit begin,” sê Olivier.

Chunchom het die “jagters” gereël en die paspoorte gekry wat Olivier in e-pos ingeskandeer het om vir Steyl te stuur.

Hy het dan aansoek gedoen om die jagpermitte.

Steyl ontken dat hy enigiets verkeerds gedoen het.

Olivier het vertel dat die sin­dikaat R65 000 per kg betaal het vir renosterhoring. “Ek sou ook R5 000 ontvang het vir elke renoster wat doodgeskiet is ... en ook vir administratiewe takies.”

Volgens Olivier skuld die sindikaat hom geld, maar “ek stel nie meer belang in dié bloedgeld vandat ek uitgevind het van die bestelling vir die 50 renosters nie”.

“Ek het agtergekom dit is altyd Thai-girls van hier af wat gaan jag. Hulle sien seker nie eens die trofeë as dit klaar gejag is nie.”

Later het Olivier uitgevind dat Chunchom blykbaar jong Thaise vroue wat hy deur vriende of in bordele en ontkleeklubs in die omgewing van Johannesburg en Midrand ontmoet het, as “jagters” in fopjagtogte gebruik het.

Hulle het glo nooit ’n skoot afgevuur nie, hoewel hulle in jagfoto’s met gewere poseer.

Die vroue is R5 000 elk betaal.

“Die Thai-mense is baie arm,” sê Olivier.

“Die meeste van hulle hier (in ons land) ondersteun hul families of kinders in Thailand.

“R5 000 is baie geld.”

Olivier was saam op twee jagtogte, maar het in ’n 4x4 gewag wanneer die jaggeselskap die veld ingeloop het.

“Ek het nie gesien wie of hoe hulle skiet nie. Ek het net die skote hoor klap. As ons daar aankom ... het hulle vir die girl die geweer gegee en gesê sy moet agter die karkas gaan staan vir ’n foto.

“Dit was nie ’n lekker gevoel om so ’n groot dier dood te sien nie.”

Die sindikaatlede het geld uitgegee asof dit water is. Een naweek het die sindikaatbaas skielik besluit hy gaan ’n Hummer vir meer as R230 000 kontant koop.

Olivier het saam met twee van die baas se onderdane na Empe­rors Palace gegaan waar hulle met twee bankkaarte geld uit twee kitsbanke begin trek het.

“Hulle het getrek en getrek en getrek. Elke keer het R2 000 uitgekom. Dan vou hulle dit op in die strokie en trek weer. Dit het lank gevat. Ons het soos cowboys uitgeloop met groot pakke geld in ons sakke.”

Volgens Olivier het Chunchom gereeld met minagting van die polisie gepraat. Hy het gesê: “In Suid-Afrika kan jy enigiets doen as jy geld het.”

Olivier en Chunchom het eindelik koppe gestamp oor die drinkorgies wat die sindikaatlede gereeld in die huurhuis gehou het.

Olivier, ’n geheelonthouer, het hulle as ’n “klomp dronkgatte” beskryf. “Dit was net parties, girls, drank en oordonderende musiek.”

Nadat die huiseienares gekla het, het Olivier Chunchom gekonfronteer.

Chunchom het gewelddadig gereageer. “Ek het geweet ek moet hom binne drie minute moer, want ek is oud en ek kan nie langer as drie minute hou nie,” sê Olivier.

“Ek het mooi gekorrel en hom met die kop gelooi en daar lê hy. Hy’t nie geweet ’n Boertjie kan so hard bliksem nie.”

Kort daarna, in April vanjaar, het Olivier die e-pos ontvang met die bestelling vir 50 renosters.

“Toe het ek geweet dit is nie meer trofeë nie. Dit is nou ’n kwessie van stroop. Dit was genoeg bewys en ek het besluit om my storie te vertel.”

Verwysing : "Beeld - http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/50-te-veel-laat-hom-praat-20110804"

Back
Copyright 2011DisclaimerSitemapSite by Search Fusion Logo