Staat wil ingryp

Elise Tempelhoff en Marietie Louw-Carstens

Die regering oorweeg ’n moratorium op renosterjag weens kommer oor die stygende getal renosterstropings.

Me. Edna Molewa, minister van omgewingsake, het gister gesê totdat daaroor besluit is moet ’n beampte van omgewingsake teenwoordig wees by elke renoster wat met ’n permit gejag word.

Intussen is ’n verkeersbeampte van Limpopo en nog ’n man eergister in die Welgevonden-natuurreservaat naby Vaalwater betrap met ’n byl en ’n jaggeweer. Hulle het glo erken hulle wou ’n renoster skiet.

Nóg vyf mans verskyn vandag in die Polokwane-landdroshof weens renosterstropery en op ’n wildplaas by Roedtan is die karkasse van twee witrenosters gevind. Albei se horings is afgekap. Daar is al vanjaar landwyd 284 renosters gestroop.

Molewa het gister op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die regering is bekommerd oor die styging in die getal renosterstroopvoorvalle vanjaar, maar volgens haar is “alles nog nie verlore nie”.

Haar departement moet nou alles in sy vermoë doen om hierdie misdaad te bekamp, het sy gesê. “Ek oorweeg dit om ’n moratorium op renosterjag in te stel sodat ons ons huis in orde kan kry.”

Dit sal volgens haar nie in die volgende jaar gebeur nie.

Sy kan eers oor ’n maand of twee met al die provinsiale LUR’e van omgewingsake praat. Daarna moet vasgestel word hoeveel permitte vir renosterjag reeds uitgereik is.

Sy het gesê provinsiale amptenare van die departement moet by elke renosterjag wees. Ná die jag moet DNS-monsters van die dier geneem en in ’n sentrale databasis gehou word.

Molewa het erken die samewerking tussen haar departement, die nasionale vervolgingsgesag en die polisie is “nog nie ideaal nie” en dat “nog werk” in dié verband gedoen moet word.

“Hierdie moet in die oë van die departement van omgewingsake tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word.”

Mnr. Jacques Malan, president van Wildlife Ranching South Africa (WRSA), het gesê die regering sal hom in ’n muur van verset vasloop as hy ’n morato-rium op renosterjag plaas.

“Ons sal hof toe gaan en skadevergoeding van die minister eis.” Hy meen ’n moratorium sal stropery laat toeneem.

Molewa se departement het onlangs tenders aangevra vir kundiges om te help met ’n onthoorning-studie. “Veeartse sal betrek word omdat ons wil weet wat die invloed op die renoster is as sy horing afgesny word. As dit op wreedheid dui, sal dit nie verder oorweeg word nie.”

Die departement wil ook uitvind of ’n renoster waarvan die horings afgesny is gedragsafwykings toon.

’n Studie oor die moontlike wettiging van handel in renosterhoring is ook aan die gang.

Die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) het 35 jaar gelede ’n verbod op die handel in renosterhoring geplaas.

Molewa het gesê ’n groot probleem vir haar departement is dat jagpermitte provinsiaal uitgereik word. Sy het haar spyt daaroor uitgespreek dat die stelsel blykbaar misbruik word en dat jagte onwettig plaasvind.

"Staat wil ingryp - http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Staat-wil-ingryp-20110829"

Back
Copyright 2011DisclaimerSitemapSite by Search Fusion Logo