Wildboer in hof
Wolfram Zwecker
’n Wildplaaseienaar van die Vrystaat het gister saam met twee Thaise “renosterjagters” vir wie hy glo as “middelman” opgetree het, in die streekhof in Kempton Park verskyn.
Met mnr. Marnus Steyl se verskyning gister het nog ’n stukkie van die legkaart in die beweerde renosterhoringsindikaat in posisie geval.
Steyl en sy prokureur, mnr. Alwyn Griebenow, het gister kort voor 09:00 by die hofgebou in Kempton Park ingestap vir samesprekings met adv. Allen Simpson, staatsaanklaer.
Later die oggend het Steyl saam met mnre. Chumlong Lemtongthai en Puntipak Chunchom, ook ’n Thai, in die beskuldigdebank verskyn.
Landdros Prince Mayathi het die verrigtinge uitgestel. Steyl is op borgtog van R100 000 vrygelaat. Lemtongthai en Chunchom word albei nog aangehou. Chunchom is Vrydag saam met nog ’n Thai, mnr. Supacht Ramangkoon, op die O.R. Tambo-lughawe in hegtenis geneem.
Chunchom is in Junie met R10 000 beboet nadat hy skuld beken het op aanklag van die onwettige besit van leeubene.
Die polisie, lede van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se wetstoepassingsondersoekeenheid en die polisie se Valke het in daardie stadium op ’n huis in Edenvale aan die Oos-Rand toegeslaan. As gevolg van dié klopjag is Lemtongthai en Chunchom in hegtenis geneem.
Volgens Simpson word al drie aangekla van onder meer oortredings van die Wet op Biodiversiteit en bedrog wat spruit uit die gebruik van permitte wat vir die jag van renosters uitgereik word. Die permitte word dan gebruik om die horings uit te voer.
Daar word beweer dat Steyl as die plaaslike “middelman” opgetree het terwyl Lemtongthai die renosterhorings teen R65 000 per kilogram gekoop het. Chumchon het na bewering die “jagters” voorsien in die vorm van Thaise vroue of prostitute wat teen vergoeding beweer het dat hulle die renosters gejag het en dus die “jagters” is aan wie die permitte uitgereik is.
Ramangkoon het erken dat hy aksynswetgewing oortree het deur te versuim om buitelandse valuta ter waarde van sowat R35 000 te verklaar toe hy Vrydag vir ’n vakansie in Suid-Afrika aangekom het. Hy is gevonnis tot ’n R10 000-boete of twee jaar tronkstraf.
www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Wildboer-in-hof-20111109
